Monday 8 July 2013

Vreemde lukraak gedagtes oor totties

Image Source
As kind het ek die Afrikaanse roep vir ganse baie vreemd gevind. Wanneer 'n mens hoenders roep, sê jy “kiep-kiep-kiep!”, maar 'n mens roep ganse met “pielie-pielie-pielie!” Ek kon nie verstaan wat ganse en die kraswoord piel met mekaar te make het nie. Is dit dalk 'n visuele assosiasie met 'n gans se nek en kop? My kinderlike verwarring was dalk onskuldig, maar dis nie net in Afrikaans dat daar 'n konneksie tussen pluimvee en penisse is nie. In die Engelse volksmond gebruik ons tog “cock” (haan) as die metaforiese term vir die manlike geslagsdeel. En in Afrikaans is voël ook algemeen in die volksmond, soos 'n Nando's advertensie al humoristies uitgebeeld het.


Ouers praat ook soms eufemisties met hulle seuntjies oor hulle voëltjies. Die bekendste Afrikaanse eufemisme wat kinders geleer word is sekerlik tollie. 'n Snaakse eufemisme, dink ek, want 'n tollie is tog 'n bul-kalfie. Is dit Afrikaans se boere-wortels wat hier te sprake is? Maar hoekom praat ons nie van meisies se geslagdeel as versies nie? Ons verwys allermins van 'n onaangename volwasse vrou as 'n koei. Betreffende metaforiese eufemismes en kindertotties het ek nog altyd gedink Antjie Krog se beskrywing in 'n gedig van haar babaseuntjie se penissie en skrotumpie as 'n slakkie my sy skulpie is mooi beskrywend. In Korea word rooirissie (“ghôtjoe”) as eufemisme gebruik. Op 'n visuele vlak is vrugte en groente sekerlik heel gepas, dink byvoorbeeld aan piesangs, komkommers en wortels, maar ek dink nie dat mense in Afrikaans juis na hierdie kosse verwys met konneksie tot die penis nie. Ook nie juis in Engels nie. Ek wonder of ander kulture, soos in die geval van Korea, kosse as eufemismes gebruik.

As jong man het ek begin dink dat dit dalk nie toevallig is dat piel en siel so 'n sterk rymingspaar maak nie, en het al selfs 'n gedig geskryf wat die konneksie uitlig. Dis dalk iets wat vroue sal verbygaan, maar dis onbetwisbaar dat daar by mans 'n baie sterk band is tussen hulle penisse en die kern van hulle wese. Daar is 'n archetipiese simboliek aan 'n penis wat ons in alle kulture regoor die aarde vind. So oppervlakkig as dit mag klink is daar min dinge wat 'n man so manlik kan laat voel as 'n sterk ereksie. Dis 'n primitiewe, tog onbetwisbare, werklikheid.

Image Source

Die konneksie tussen 'n penis en 'n wapen ('n tradisioneel manlike instrument) is byna voor die handliggend. Dit voel byna soos een-twee-drie om die sinaptiese spronge te maak tussen mans, penisse en wapens, en daarom is daar 'n hele swetterjoel wapens wat as metafore vir penisse gebruik word: knopkiere, spies, swaard, pistool, misiel, atoombom. Aai, ou Freud.

Dit is seker nie te verassend nie dat mans partykeer vir hulle penisse name gee. Persoonlik het ek nie 'n troetelnaam vir my “meneer” nie, maar op 'n keer het ek tot my eie verbasing vir iemand gewaarsku: “Don't wake the dragon!”

So wat vir 'n ding is 'n “tottie”? Is dit ook 'n metaforiese eufamisme? Ek benodig duidelik 'n Afrikaanse etomologiese woordeboek. Die Afrikaanse sakwoordeboekie wat ek hier in Korea het lys nie die woord nie, en my elektroniese kopie van die HAT (e-HAT, 5de uitgawe) werk nie op Windows 7 nie, gevolglik kan ek nie die etomologie van “tottie” opsoek nie. Miskien weet een van die lesers waar die snaakse woordjie vandaan kom. Dis moontlik 'n speling op die woord “tietie”;  'n vermanliking daarvan. Sou 'n mens dan kan praat van 'n volwasse man se “tot”? Ek dink nie meeste mans sal daarvan hou nie. “Tot” klink so kort . . . te verknot, te bot, te stomp. Dis gepas dat 'n seuntjie 'n “tottie” kan hê, maar 'n man soek 'n kragtige naam vir sy swaard. Watter kryger sal die oorlog in jaag met sy swaard “Tot”? Nee, Arthur het Excalibur, Beowolf het Hrunting, Charlemane het Joyeuse, Gandalf het Glamdring, en Harry Potter het die Swaard van Gryffindor.

'n Thai-man met fallus-gelukbringers.
Image Source
Nietemin is dit paradoksaal dat die instrument wat deel het in voorplanting—in die skep van 'n nuwe lewe—ook so 'n destruktiewe konneksie het. Die penis is 'n destruktiewe simbool, ja, maar dit is ook 'n simbool vir energie en lewe, gevolglik is fallusagtige standbeelde, obeliske, en selfs klein replikas in party kulture gemaak, en partykeer word selfs die baculum (penisbeen) van sekere diere gebruik om voorspoed, gesondheid, liefde ensomeer aan te trek.

Ek is duidelik besig om te prokrastineer. Het werk om te doen, maar is nie lus nie, so nou skryf ek opstelle oor ganskoppe.

2 comments:

Anonymous said...

Ek het lekker geglimlag vir die inskrywing. En Korea is inderdaad 'n plek met tottiekoors!

Skryfblok said...

Ek het net gister iets in Koreaans probeer sê, en toe sê die aanhoorder vir my dat hy is nie seker wat ek sê nie, want dit wat ek sê beteken tottie. Maar nou kan ek ook nie meer onthou wat dit was nie, so ek gaan waarskynlik weer hierdie fout in die toekoms maak. Lol!