Wednesday 13 June 2012

'n Eksamen in Korea

Ek sit in die eksamenlokaal agter 'n rekenaar en gluur na my studente wat besig is met die eindeksamen vir 19de Eeuse Britse Digkuns. Ek wag vir een spesifieke student, Ruka, om haar vraestel te bring. Ek weet daar gaan byna niks op wees nie en probeer voorspel na hoeveel minute sy gaan opstaan. Ek sien haar vir my loer, met haar hare speel, na die dak staar, na haar vraestel kyk, haar naels ondersoek . . .

Intussen drentel 'n student die klaskamer binne. Hy lyk geskok om almal aan die skryf te sien. Die twee-uur lange eksamen het om 12:00 begin en glo het hy gedink dit begin eers 13:00. Hy's vyftien minute laat. Teen 12:30 vra hy my of hy sy meisie kan bel wat op kampus in die koshuis bly. Sy is ook onder die indruk dat die eksamen eers om 13:00 begin. Genadige lektor wat ek is, gee ek toestemming en enkele minute later storm sy meisie die vertrek binne, bleek in die gesig. Ek het reeds vir haar 'n tafel met haar vraestel gereed en wys nonchalant aan haar haar sitplek uit.

So teen 12:40 bring 'n student sy antwoordstel. Ek blaai daar deur en sien dat hy darem probeer het. Hy mag moontlik net-net deur skraap indien ek nie te streng merk nie. 'n Ruk later bring nog 'n student haar antwoord stel. Dieselfde storie, maar ek twyfel of sy dit sal maak. Sy het twee vrae uitgelaat. Die een tel 9 punte en die ander 4 punte. Al wat daar staan is "Sorry, Prof." onder die een vraag en "I'm really sorry" onder die ander. Ek gee nie punte vir apologieë nie.

Die derde student wat haar vraestel bring gaan dit beslis nie maak nie. Haar antwoordstel is so te se leeg.

Die vierde student is ek verbaas het enigsins opgedaag. Deur die semester het sy gedurig uit die klas uit gesluip, so ek weet sy het eintlik nie 'n benul van wat aangaan nie omdat sy omtrent al die belangrikste lesse gemis het. Daar is byvoorbeeld nie 'n manier wat sy die vraag kon antwoord oor die verwantskap tussen Lord Alfred Tennyson se "Lady of Shalott" en Plato se allegorie van die gevangenisse in die grot nie. Tensy sy in haar vryetyd filosofie lees. Op die eerste bladsy, by die eerste vraag skryf sy: "Please look at the last page." Ek blaai deur die antwoordstel en sien groot vlaktes wit. Op die laaste bladsy waar sy 'n paragraaf moet skryf waarin sy Percy Bysshe Shelley se "England 1819" met William Wordsworth se "London, 1802" moet vergelyk is daar inderdaad 'n paragraaf geskryf. Ek herhaal woordeliks:
Professor,
First of all, I say "I am sorry." This semester, I came back at the school since 2007. But my positions is not just student. Everyday, when I finish the school, I go to the work (my job). And I finish my work at am.2 (or am.3). It's not easy than I thought, so my attendence in class is not good. Also, my ability is very awful. I know that. Actually, I could not study this class, because I am really difficult this class and my life-pattern. Today I cam to tell you, "Pleasse,, this class's pass.", but when I saw this test paper, I know my foolish. I am very shame to me about that I cannot solve this test. I plan for studying English in this summer vacation, and I'll ready next semester. But, If you give my "F" . . . I can't come back next semester, because of school-loan. So, help me please . . . I promise that I'll re-study this class next year. Then I will really really study hard this subject. Have a good summer vacation.
Blessing you. From Connie.
Ek skud my kop en verwoord my repliek wat sy nooit gaan lees nie:

Liewe Connie,  
Indien jy vroeër die semester my kom sien het en jou situasie aan my verduidelik het kon ons dalk 'n plan gemaak het om jou kleiner huiswerkprojekte deur die loop van die semester te gee en miskien kon ons ekstra ontmoettings gereël het waartydens ek saam met jou die belangrikste werk kon hersien het. Al wat ek nou het, is 'n leë finale eksamen antwoordstel en 'n string nulle vir opdragte wat nie ingehandig is nie. Daar's nie veel wat ek nou vir jou kan doen nie. Sterkte. 

Uiteindelik bring Ruka, die student waarvoor ek nog die heeltyd gewag het, haar antwoord stel. Sy't my verbaas. Ek het gedink sy sou lankal reeds haar antwoordstel gebring het, maar sy het sowaar 40 minute lank van niksdoen verduur. Die antwoordstel is nie absoluut leeg nie. Sy het goetertjies op die eerste bladsy geskriffel sodat dit nie te sleg lyk wanneer sy die antwoordstel op die tafel kom sit nie. Ek loer so deur die antwoorde op die voorblad en sien dat sy een punt korrek het. Die eerste bladsy verteenwoordig 13 punte. Die hele vraestel tel 78 punte. Sy het 1 uit 78, maw 1.3%. Later vandag het ek haar ook in 'n ander klas. Ek vermoed dit gaan dieselfde storie wees.

Uiteindelik bring Pauline haar antwoordstel. Ek kyk daarna met 'n sug van verligting. Sy't nie al die vrae geantwoord nie, maar dit lyk of sy darem goedgenoeg sal slaag. Dan Melissa se antwoordstel. Baie goed. Haar antwoorde omtrent Percy Bysshe Shelley se "Ozymandias" lyk deeglik. Sy het duidelik opgelet in die klas die dag toe ek die narratiewevlakke in die gedig bespreek het. Sy't die vraag omtrent "The Lady of Shalott" en Plato korrek geantwoord en haar vegelykende paragraaf lyk op die oogaf deeglik. Pauline en Melissa gee my hoop. Nie almal gaan druip nie. Daar is sowaar studente wat opgelet het deur die semester, wat iets geleer het, wat moontlik selfs 'n onderskeiding mag kry.

Met 10 minute op die horlosie oor sit byna helfde van die klas nog verwoed en skryf. Die outjie wat laat gekom het bring sy antwoordstel. Dit lyk deeglik geantwoord maar slordig. Deur die loop van die eksamen het hy van 'n swartpen na 'n bloupen toe oorgeslaan. En op die laaste bladsy toe sy antwoord te lank raak laat weet hy my met 'n rooipen om na die agterblad te blaai vir die res van die antwoord.

Ek kondig aan dat daar slegs 5 minute oor is. Daar is nog 13 studente aan die skryf, insluitende die outjie se meisie wat laat gekom het. Ek kan verstaan dat sy nog besig is omdat sy 30 minute verloor het, maar begryp nie wat die res van die studente nog hier doen nie. Waarmee is hulle besig?

Die lokaal raak ontstuimig. Bladsye ritsel en stoele skuif en sweet drup vanaf fronsende gesigte af.

"Okay, time's up! Please hand in your papers." Roep ek met 'n outoritêre stem.

1 comment: