Friday 8 June 2012

Mamma, waar kom ek vandaan?

Party kinders word vertel dat die ooievaar hulle gebring het. Ander weer dat hulle in die hospitaal gaan koop is. Ander kry die meer biologiese, alhoewel afgewaterde feite: "Pappa het jou in mamma se magie geplant," of so iets.

Ek onthou nog baie goed my moeder se antwoord op die vraag: "Jong," sê my ma, "Ek het vir 'n stappie in die berge gegaan en daar sien ek toe 'n apie! Ek het vinnig die apie gevang, sy stertjie afgekap en huistoe gebring. Dis waar jy vandaan kom."

Dit was vir my 'n baie oulike storie en ek het my ma gereeld gevra om my te vertel waar ek vandaan kom, hoe ek gelyk het, of ek gehuil het toe sy my stertjie afgekap het en of dit regtig nodig was om my stertjie af te kap! (Ek dink nou nog dit sou hiper bevange wees om 'n stert te hê!)

Richard Dawkins, die evolusionêre-bioloog sal seker so 'n storie goedkeer. Ek weet nie hoekom my ma wat nie 'n evolusie-gelowige was nie, juis hierdie storie sou kies om my van my oorsprong te vertel.

Toe ek groter was het ek ook die pappa-plant-'n-saadjie-en-jy-groei-in-mamma-se-magie-verduideliking gehoor. Toe ek later uitvind dat met geboorte die dokter die kind onderstebo aan sy voete hang en dan 'n harde klap op die bas gee, was ek heeltemal verontwaardig. Die volgende keer wat ons die familie-dokter gaan sien het, het ek hom gevra oor hierdie onverdiende pakslae en hardhandige verwelkoming in die wêreld. Dr. Scheepers het my verseker dat dit gewoonlik nie nodig is om 'n babatjie so te raps nie. Hy kon my nie sê of hy my so 'n pakslae gegee het nie, maar ek was blykbaar te vrede dat my eerste buite die baarmoeder waarskynlik nie 'n pakslae was nie.

Noudat ek veel groter is weet ek waar ek vandaan kom, maar wonder ek tog soms oor my voorgeslagte en waar my wortels nou werklik lê? Watter gene is belangriker, die van my Skots-Joodse oupa aan vaderskant of die Frans-Hollandse moedersgene? Of vat ek dit nou te ver? Moet ek terug kom na my eie geslag en besin oor my kinderdae. Is wat belangrik is waar ek groot geword het? Die plaas wat nie meer is nie? Die Vuil Driehoek waar ek hoop om nooit weer te bly nie. Of is Suid-Afrika in geheel genoegsaam om my identiteit op te berus?

Maak dit enigsins saak waar 'n mens vandaan kom? Of is al wat belangrik is, waar jy nou is of wie jy nou is?

Waar kom jy vandaan?

4 comments:

morbidneko said...

Greetz.

"bevange"? lolz.

^_^

my ouers het natuurlik net 'n boek op 'n tafel neergelê: "Seks, wat om vir kinders te vertel." En, dit was dit.

Soos ek dinge verstaan het jy 50% van jou ma en 50% van jou pa. Sommige gene is net dormant. It's a bit of a crap shoot really.

Moenie te veel stress oor die ancestral path nie. Soos my nihilistiese pel altyd sê: "Wie gee om 10'000 jaar van nou? Wie gee om 200 jaar van nou?"

Dink hy't 'n punt beet: Just do the best you can with what you were given.

;-)

Mis jou geselskap. Jou poësie is mooi.

Skryfblok said...

Ek mis jou geselskap ook Neko.

Dankie vir die kompliment -- ek was nie bewus jy lees dit nie.

morbidneko said...

Ek lees soos werkslading dit toelaat.

Hou gewoonlik my kommentaar vir myself op meeste blogs wat ek lees.

Dis so maklik vir kommentaar om in verslawing te ontaard. :)

(don't get me started on my deviant attention seeking "whore-moans"!)

To reiterate, however, jy het 'n gawe vir die geskrewe (getikte?) woord. Ek (lekker) gril sommer in my binneste.

Elkgeval, het nie geweet jy het 'n M in Creative Writing. Dis nou 'n vak waarvoor ek bly was op skool: No studying! Just pitch and write!

^_^

Skryfblok said...

Jy het self 'n gawe vir skryf! Ek mis die dae toe jy nog geblog het.