Sunday 22 January 2012

'n Ware verhaal

Gister in Mtunzini het 'n moffie met dieselde naam as een van my broers 'n kobra probeer vang en is deur die slang gepik. (Ek dog kobras spoeg, maar dit daar gelaat.) Die moffie is in 'n kritiese toestand in die hospitaal. Hy is die lover van 'n bekende geskiedkundige se seun wat ook ietwat van 'n geskiedkundige is. Die geskiedkundige se gay seun wat ook ietwat van 'n geskiedkundige is, is die eks man van 'n beroemde Afrikaanse romanskrywer. Die beroemde Afrikaanse romanskrywer het eenkeer 'n seminar voorgedra in Potchefstroom wat ek bygewoon het terwyl ek nog Skryfkuns gestudeer het. Die beroemde Afrikaanse romanskrywer se gay eks-man het op 'n keer 'n ding aan die gang gehad met SAL se voormalige senior lughawe bestuurder vir kliëntediens. Die voormalige senior lughawe bestuurder vir kliëntediens wat lank terug afgetree het en al in Frankryk in die tronk was omtrent dwelmhandel, sit voor my met net 'n handdoek om sy lyf en gesels oor die goeie ou dae. (Glo het Frankryk se tronke heerlike kos.) Hy het nie genoeg petrol om huistoe te gaan nie en het twee laaities by hom. Die twee laaities lê langs my en slaap op matrasse. Die een is 'n "rent boy" met 'n lae I.K. en 'n mond-abses. 'n Mond-abses is nie ideaal as jou werk oraleseks behels nie. Die ander een is 'n heroïen-verslaafde met gang tatoos op se lyf en 'n sigaretskyf agter sy ge-pierce-de oor gesteek. Daar's ook 'n hond. Eintlik twee honde, maar die een lê binne langs die "rent boy" en die ander een is buite. Die hond wat binne is, is inteligent en hou ons met nuuskurigheid dop. Aan die anderkant langs my sit my vriendin. Ek en my vriendin (my best friend) sit en wonder hoe dit is dat die moffie wat dieselfde naam as een van my broers het en wat die kobra probeer vang het en deur die slang gebyt is en nou in kritieke toestand in die hospitaal lê, veroorsaak het dat die afgetrede gay SAL senior lughawe bestuurder vir kliëntediens, die "rent boy" met die mond-abses en die heroïen-verslaafde ons naweek binnegeval het. Ek en my vriendin het 'n afspraak gehad om oor "verwyt" te gesels, maar daar is nie nou geleentheid daarvoor nie. Ek het bietjie verwyt daaroor.

Ek verstaan hoekom die beroemde Afrikaanse skrywer wat getroud was met die gay seun van 'n bekende geskiedkundige, en wat op 'n tyd 'n seminaar oor romanskryf in Potchefstroom gegee het wat ek bygewoon het, skryf. As jy deur sulke vreemde dinge omring word, is daar min maniere om daaruit sin te maak. Skryf, hoe onsamehangend ookal, is een manier.
Published with Blogger-droid v1.7.4

2 comments:

BoerinBallingskap said...

Vader ons!!!! Omtrent interessante en ingewikkelde verbandhoudings.

Skryfblok said...

Soos hulle sê, soms is die waarheid vreemder as fiksie!