Monday 12 September 2011

Fokofpolisiekar en Placebo

Wat het Fokofpolisiekar en Placebo in gemeen?

'n Swart boks.

In 2009 stuur my jonger broer vir my die skakel na die YouTube-video van Fokofpolisiekar se song "Antibiotika". Hy het die video verontrusstellend gevind en wou weet wat ek daarvan dink.



In reaksie stuur ek vir hom 'n skakel na hierdie video van Placebo se song "Teenage Angst".



Die res van my repliek lui as volg:

Lyk die swart boks dalk bekend?

Ek dink dit ("Teenage Angst") is moontlik die sleutel om die Fokofpolisiekar song te ontsluit. Fokofpolisiekar se song is waarskynlik, soos Placebo se song, 'n refleksie van die angs van tieners. Fokofpolisiekar sing "Die goddelose het geen heenkome . . . ruik soos tienergees, tussen die spoke." Die frase "tienergees" kan verwys na hierdie song "Teenage Angst" van Placebo, of meer akkuraat, seker "Smells Like Teen Spirit" van Nirvana.



In iedergeval, die musiek is bloot 'n refleksie van die angs en onsekerheid wat die postmoderne jeug beet het.

Met hierdie in gedagte dink ek eintlik positief oor Fokofpolisiekar se video. Ek het nie die lirieke gelees nie (as jy dit in die hande kry, stuur dit asb vir my), maar dis asof die swart boks die angs en alles wat negatief is vir die jongmens simbolisiseer. Daarinteen staan die witkruis as 'n baken van hoop [vir die goddelose].

Hierdie is sommer net vinnige gedagtes wat sekerlik meer bepeinsing vereis.

'n Snaakse gesprek tussen ek en my boetie. In 2009 was ons onderskeidelik 31 en 21 jaar oud.

Vanaand het ek en hy weer gesels. Hy het vir my vier musiekstukke gestuur wat hyself gekomponeer het en op klavier gespeel het. Drie daarvan is profesioneel opgeneem in 'n studio. Een het hy op sy selfoon opgeneem. Ek sien daarna uit om nou daarna te gaan luister.

Intussen wonder ek weer oor die swart boks in Fokofpolisiekar se video. Is die mense wat vasgevang is in daardie swart boks dieselfde mense wat vasgevang is in Placebo se musiekvideo. Maw, is Placebo gaskunstenaars in Fokofpolisiekar se video? En hoe pas Nirvana in hierdie prentjie in. Daar is nie swart bokse in hulle video nie, of is daar? Die lirieke van "Antibiotika" verwys beslis na Nirvana se song. En hoekom daardie wit kruis. Die wit kruis staan duidelik in jukstaposisie met die swart boks. Is ons veronderstel om te glo dat Fokofpolisiekar, 'n selferkende ateïstiese groep, Christenskap as oplossing, as "antibiotika", aanbied teen die angs, vasgevangendheid en hopeloosheid wat die swart boks simboliseer. Weereens sommer net vinnige gedagtes wat sekerlik meer bepeinsing vereis.

No comments: