Thursday 15 September 2011

Ek kort kuns -- ek kort 'n Aardklop

'n Portret deur Marie Stander
vir haar Aardklopuitstalling:
"Antjie is wat die kinders my noem."
Binnekort is dit weer sulke tyd -- Aardklop-tyd. En as daar nou 'n tyd is van die jaar wat ek Suid-Afrika mis is dit hierdie tyd van die jaar.

Hoe graag sou ek nie na Amanda Strydom wou gaan luister het! In my opinie is Strydom Suid-Afrika se nommer een verhoogdiva. Haar vertoning "Binnekamer" is in same werking met Deon Opperman, vir wie ek baie respek het sover dit sy bydrae tot die vermaaklikheidswêreld in Suid-Afrika betref.

Of Rocco de Villiers en Annake de Villiers se "Beeld Skoon / But Beautiful" beloof om 'n musikale rit te wees soos min. Albei is uitmuntende musiekante. Ek onthou die eerste keer wat ek Rocco lewendig beleef het; ek het onmiddelik die CD gaan koop.

As ek myself moes dwing tot slegs twee shows sal dit eerstens Nataniël insluit. Sy vertonings dryf jou tot trane. Soms huil jy van die lag. Ander kere huil jy net vir die elende van mens wees. Nooit verlaat jy 'n vertoning sonder dat jy oor diep dinge gedink het nie. Verskeie gaskunstenaars deel die verhoog in "Weeksaand: Las Vegas". Die ander show wat ek bitter graag sou wou sien is "Projek: Nuwe Maan" met Laurinda Hofmeyer, Riku Latti en Les Javan. Iemand wat lief is vir woorde, vernaam Afrikaanse woorde kan nie verkeerdgaan met die vertoning nie. Aai . . .

Lucas Maree se "Ek sal kan doen met 'n miljoen" gesing in Frans

Hoe kan 'n kabaretliefhebber soos ek Myra Maud se Afri-Franse vertoning "Viva La France" misloop? (Sien en hoor 'n voorsmakie hier.)

Dan praat ek nie eens van die visuele kunste nie! Dink byvoorbeeld aand die poësie in beeld vertoning deur Kai Loss Gott, of die feeskunstenaar uitstalling van Sam Nhlengethwa, of die Leonard Cohen-tribuut, of . . . so kan ek aan hou.

Ag tog! Ek mis die kunste. Hier in Korea kry ek blootstelling aan baie wêreldklaskuns, maar tydens Suid-Afrika se kunstefeeste, soos Aardklop, is dit net soveel meer gekonsentreer. So in jou gesig. Dis wanneer ek aan die kunste en kunstefeeste dink dat ek voel dat my huidige job is nog nie presies waar ek in my lewe wil wees nie. Ek's geluk in my werk -- het net vandag weer dit vir myself hardop gesê -- maar ek kort nog meer kuns in my lewe. Ek kort 'n Aardklop!

4 comments:

Anonymous said...

Jy sal maar spesiaal moet invlieg vir die geleentheid :)

Skryfblok said...

O, hoe wens ek, ek kon! As ek verlof kon in sit sou ek dit beslis gedoen het.

BoerinBallingskap said...

Die AfriFrans is vir my besonders! Maar Frans was nog altyd vir my 'n pragtige taal. Altyd soos fluweel op die tong.

Skryfblok said...

Daar is inderdaad iets aan Frans. Eendag eens ek meer ordentelik in Koreaans kan kommunikeer mag ek moontlik Frans ook opneem.