Thursday 7 July 2011

Wasgoedgewoontes

Image Source
Genugtig, maar ek vlieg darem maar deur klere! Op die dae wat ek na die krygskunsklasse toe gaan, gaan ek maklik deur vier of vyf hempde. Vir werk dra ek 'n knopieshemp met 'n onderhemp onder. Dan wanneer ek krygskunsklas toe gaan hou ek die onderhemp aan maar trek die Taekwon-Do uniformbostuk bo-oor aan. Na Taekwon-Do doen ek Yusul--'n vorm van Koreaanse jujitsu of te wel, stoei. Hiervoor trek ek eers 'n stywe spoedhemp aan en dan bo-oor 'n ander hemp of uniformbostuk. Dan, na oefening, trek ek 'n skoon T-hemp aan omdat die ander hempde nat gesweet is van die oefening. Wanneer ek uiteindelik by die huis kom, neem ek 'n stort en trek dan 'n ander skoon hemp aan om in te slaap. Dan tel ek nie eers die ander kledingstukke (broeke, onderbroeke, kouse) nie.

Wat wasgoed betref, ek was klere in drie kleurgroepe. Een bondel slegs vir wit klere, een bondel slegs vir donker klere en een bondel slegs vir bont klere. Ek het dus nie 'n spesifieke wasdag nie, omdat my wasgoeddroograk nie groot genoeg is nie. Instede, wag ek vir een van die drie kleurbondels groot genoeg is, dan was ek daardie bondel.

En soms was ek ander goed. Gister het ek beddegoed gewas.

Nou-ja, ek is net een mens. Verbeel jou ek was getroud met kinders. Ek is seker die helfde van my water-en-elektrisiteit sou net aan wasgoed gewy gewees het!

Die slegste ding omtrent wasgoed vir my is klerestryk. Ek vermy dit ten alle koste. Een tyd terwyl ek in Potch gewoon het, het 'n vriend van my besluit genoeg is genoeg, en het hy begin om my klere te stryk. Ek weet nie of hy my jammer gekry het weens my gekrekelde klere nie en of die ongestrykte klere hom net so intens geïrriteer het nie. Hoe ookal, dit was 'n goeie "sharp-looking" era in my lewe. Omdat ek stryk so pes hou ek baie van die winter want dan kan ek truie en baadjies bo-oor my ongestrykte werkshempde aantrek en niemand vermoed dat my hemp soos 'n Johannesburgse straatkaart lyk nie.

No comments: