Tuesday 14 June 2011

Ons Blêrkas van Afrikaanse volksmusiek


Mangosotho Buthelezi sing "Hoe ry die boere."

So ruk terug het ek gewonder oor die lirieke van "Hoe ry die boere?" en toe die woorde vir die ou volksliedjie wat ek op laerskool gesing het op die Internet gaan opsoek. Ek kom toe op hierdie wonderlike webtuiste af genaamd "Ons Blêrkas" met 'n groot korpus ou Afrikaanse volksmusiek.  En wat 'n skatkis is dit nie! Soveel van daardie ou volksliedjies wat al byna vergete is, is hier opgeneem met midi-klankleërs met die wysies van die liedjies.Ek is bekend, tot my verbasing, met 'n klomp van die liedjies, maar daar is ook 'n groot gros liedjies waarmee ek nie vertroud is nie. Dis vertroostend om te weet dat so 'n webtuiste bestaan om die nalatenskap van Afrikaanse volksmusiek bewaar.

Alhoewel ek baie uitgesproke is oor die swak Afrikaanse musiek wat so gewild is, is ek nietemin bly dat Afrikaans tog steeds floreer as taal en vernaam in die musiekbedryf. Weens my geografiese geïsolleerdheid mbt Afrikaanse kunste is ek bietjie uitvoeling met wat tans in Afrikaans gebeur. Ek probeer maar elke jaar wat ek Suid-Afrika besoek uitvis omtrent die nuwe Afrikaanse treffers en Afrikaanse musieksterre. Ek is ook bly om te hoor oor Chris Chameleon se nuwe stel toonsettinge van Ingrid Jonker se verse. Ingrid Jonker was sedert jare gelede een van my drie gunsteling Afrikaanse digters. (Die ander twee is T T Cloette en Antjie Krog.) Ek het nog nie Chris Chameleon se nuwe album gehoor nie, maar sal dit waarskynlik binnekort vir my aankoop. So elke af-en-toe koop ek vir myself 'n Afrikaanse album aanlyn.

Intussen lees ek maar deur die lirieke van Afrikaanse volkliedere op Ons Blêrkas. 'n Eienaardige interesantheid omtrend die webtuiste is dat dit 'n onderlaai van die elektries- en elektroniese ingenieurswese departement van Stellenbosch Universiteit is. Hoekom word die webblad nie onder die universiteit se Afrikaanse departement of musiekdepartement se webtuiste gestoor nie? Dis snaaks om te dink dat êrens in 'n ingenieurswese departement sit 'n elektriese ingenieur en volkswysies versamel.

No comments: