Tuesday 7 June 2011

'n Demokrasie is 'n hoogskosbare fragiel affêre

(Source)
In 'n Demokrasie regeer die mense -- hulle word nie regeer nie. Dit is die plig van die goewerment om die wil van die mense uit te voer. Met ander woorde, die mense is baas en die goewerment is klaas. Indien die mense ontevrede is met hoe die goewerment sy plig nakom, dan kan ons hulle via 'n verkiesing vervang met verteenwoordigers wat ons wil meer getrou sal uitvoer. Die mense is dis in beheer en om hulle taak ordentelik te doen moet hulle vrye toegang hê tot staatsinligting. Sonder sulke vrye toegang is dit nie 'n demokrasie nie, maar 'n diktatorskap waar die goewerment baas is en die mense klaas is.

Die "Wet om Beskerming van Inligting" wat deur Suid-Afrika se goewerment voorgestel is, is drakonies van aard. Dit is daarop uit om inligting van die mense te weerhou. Sonder vrye inligting kan die mense nie ordentelike landsbesluite neem nie en is dan nie instaat om in beheer te wees nie. Eenvoudig gestel, hierdie wet verander die land vanaf 'n demokrasie in een-of-ander vorm van diktatorskap. Dit mag dalk nou nie onmiddelik Noord-Korea word nie, maar dit lê die fondasie waarop 'n Noord-Korea of 'n Zimbabwe of 'n Ivoorkus maklik gebou kan word. Intussen raak dit 'n piesangrepubliek.

Daarom is ek teen die voorgestelde "Wet om Beskerming van Inligting." Hoe meer geheime 'n staat het, hoe minder ware vryheid bestaan daar en hoe skraler is die kans om 'n werkende demokratiese stelsel. Soos Thomas Jefferson tereg gesê het: "Information is the currency of democracy." Sonder toegang tot inligting kan 'n demokrasie nie bestaan nie.

Raak betrokke in hierdie stryd. Dit handel oor groter dinge as bloot joernaliste en fluitjieblasers. Dit raak die kern van hoe ons land regeer word -- is die mense baas of is die goewerment baas? 'n Demokrasie of 'n diktatorskap? In watter tipe land wil jy bly?

Een manier om betrokke te raak is deur die "Right to Know Campaign"-petisie te teken. Neem deel aan protesoptogte. (Elke persoon behoort ten minste een keer in sy of haar lewe aan 'n protesoptog deel te neem.) Skryf briewe en vertel mense. 'n Demokrasie is 'n hoogskosbare fragiel affêre. 'n Mens moet dit daarvoor veg en dit pamperlang.

No comments: