Thursday, 2 June 2011

Die Geselskap Dames van die Vaaldriehoek -- Die begin van 'n storie

As Hannes geweet het dat hy homself later die dag in net sy onderbroek en kouse sou bevind, vasgemaak met cable ties aan 'n lendelam stoel, sou hy 'n beter onderbroek vir die geleentheid gekies het en seker gemaak het sy kouse pas. Sy huidige onderbroek is effe uitgerek en hang papperig om sy heupe; dit was oorspronklik donker blou, maar het intussen tot 'n ongesonde grys uitgewas. Sy kouse is albei swart, maar is van verskillende pare. Die een kous is duidelik hoër teen sy kuit op as die ander.

Die dame met die hoë-hoëhakskoene kom die slegbeligte vertrek binne. Ondanks sy oë brand let hy tog op hoedan haar lang bene in 'n sy-onderbroekie wat met delikate kant afgeëts is, verdwyn. Hannes se hart klop vinniger. Hy is nie seker of sy hartsversnelling die gevolg is van haar kontoere of die wete dat die martelsessie nou weer gaan voortgaan nie. Miskien albei.

Sy kom staan voor hom. Hy kan nie haar gesig uitmaak nie. Daar is slegs een lig in die vertrek, 'n lamp wat direk op hom skyn sodat hy heeltyd sy oë op skrefies moet trek om die pynlike intensiteit daarvan te demp.

“Gaan jy praat?” vra sy in 'n stem wat jazz kan sing sou sy wou, maar Hannes weet dt sy nie sulke volksvreemde ambisies sal hê nie. Jazz-musiek is so ontuis in die Vaaldriehoek soos pap en wors in New Orleans. Hy bly nou al lank genoeg in die Vaaldriehoek om 'n oorsigtelike gevoel te hê vir tipiese musieksmaakvoorkeure. Ongelukkig nog nie lankgenoeg om te weet dat dit gevaarlik is om rond te snuffel by die “Geselskap Dames van die Vaaldriehoek” nie.

2 comments:

Retha said...

'n Interessante begin...

Skryfblok said...

As ek my nie verbeel nie, was hierdie eintlik 'n droom . . . Dit was interessant genoeg dat ek besluit het om dit neer te skryf met die hoop om eendag iets daarmee te doen. Ek het toevallig 'n paar dae terug op die dokument afgekom waarin ek dit gebêre het en toe sommer besluit om dit hier te kom plak.