Tuesday 12 October 2010

Gremlins in my rekenaar

Gisteraand toe ek by die huis kom en my rekenaar aan skakel toe is daar weer "niks." Dis nadat ek oortuig was dat die probleem iets met 'n hardeskyf te make gehad het. Vandag het ek maar weer die tegnikus laat kom. Hy het nie juis gedoen wat ek nie kon gedoen het nie, naamlik om die verskillende komponente uit te haal die rekenaar te boot en sodoende te sien wat die probleem is. Ek kon dit self gedoen het, maar was te moeg en geirriteerd. Boonop sou ek nie geraai het dat die rakker die grafikakaard was nie. Gevolglik, honderd Rand en 'n blikkie koeldrank later, weet ek nou dat dit die grafikakaard is. (Dis natuurlik totdat die gremlins aan iets anders begin kou.) 

En soos wat dit mos altyd gaan het hierdie grafikakaard se waarborg verlede maand verstrek. Ek is byna oortuig dat die vervaardigers 'n breekveer in hulle produkte bou wat vuur sodra die waarborg verby is. Sodoende hoef hulle nie die produk te vervang nie en jy moet 'n nuwe produk koop -- dis slegs hulle wat wen. Wel, hierdie keer gaan ek 'n ander fabrikaat se produk koop, thank-you-very-much. Intussen hardloop ek maar my skerm vanaf die moederbord se VGA-konneksie. Dis nie te sleg nie. Op my wye skerm kom ek nie juis die verskil agter tydens alledaagse take nie. Ek het nie onmiddelik enige grafiese werk om te doen nie, so ek sal kan uithou totdat die nuwe grafiese kaard wat ek 'n rukkie terug aanlyn bestel het oor 'n paar dae hier aankom.

Ek moet bieg dat die nuwe Windows 7 wat ek op my rekenaar gelaai het, laat voel of ek 'n hele nuwe rekenaar het. Dankie aan almal wat my aangemoedig het om na Win7 toe te skuif. Ek was so teleurgesteld met Windows Vista dat ek nie Windows 7 vertrou het nie. Dit wil vir my voorkom of Windows elke ander keer 'n geslaagde platform skep. Windows '95 was stabiel, maar toe kom daardie wankelrige Windows '98. XP was weer stabiel, maar toe kom die mislukte Vista. Nou sit ons weer met 'n stabiele Win7. So vermoedelik -- as volgens die huidige patroon -- gaan die volgende Windows platform weer gemors wees.

Aangesien die helfde van my programmatuur verlore is met die formatering van my hardeskyf is ek tans weer in die proses om sagteware te soek. Ek mik vir oopkode vryware (open source freeware) produkte. Het sopas Open Office gelaai en oorweeg Gimp as 'n alternatief of Photoshop.

Beeldmateriaal: Gremlins Online

No comments: