Monday 14 June 2010

If You Don't Use It, You Lose it; of hoe sê ek?

Gister speel ek ’n Afrikaanse liedjie op YouTube vir ’n kolega en poog om die lirieke in Engels te vertaal. Tot my groot skok kon ek dit nie ordentlik doen nie. Het my Afrikaans sodanig verswak?! Of is dit my Engels? Hoe ookal, ek kon nie met gemak die Afrikaanse lirieke in Engels bewoord nie.



Ek funksioneer die meeste van die tyd in Engels hier in Korea. Ek praat Engels 90% van die tyd. Die oorblywende 10% word gedeel deur Koreaans en Afrikaans, waarvan Koreaans seker die groter deel neem. My leesstof is byna eksklusief Engels. Die films en ander programme wat ek kyk is seker ook 80% Engels, met die oorblywende persentasie verdeel tussen Koreaans en Japanees. Die enigste tyd wat ek Afrikaans geniet is eenkeer per weer wanneer ek RSG se "Kommentaar" nuusprogram aflaai. Ek het nie enige Afrikaanse leestof nie. So af en toe lees ek ’n Afrikaanse bloginskrywing êrens. Ek het wel ’n Afrikaanse Bybel, maar is meer geneig om my Engelse Bybel te gebruik. Ek is bevrees dat ek is besig om Afrikaans te verleer. Ek ken wel ’n paar Afrikaanse mense in Korea maar ek sien hulle byna nooit nie. My week is gans te vol en naweke is baie keer weke vooruit beplan.

If you don’t use it, you lose it, en ek is besig om dit te lose. Aai tog! Ek sal ’n plan moet maak. Ek sal vir my ’n paar Afrikaanse boeke moet bestel en bietjie meer na my Afrikaanse musiek moet luister. My Afrikaanssprekende vriende, skryf asseblief meer gereeld vir my anders gaan ek volgende keer wanneer ek vir jou kom kuier die heeltyd in Engels gesels en ons almal weet dat ’n mens nie in Engels kan kuier nie.

No comments: