Thursday 7 May 2009

Kaput

Image from FunHighway.Com


Dis reeds Donderdag – ek het Sondag laas iets geblog. Verlede week was uitputtend. Hierdie week is nie veel beter nie. Die vreemde ding is dat ek nie kan sê wat presies my so kaput het nie. Hierdie semester is nie veel erger as verlede semester nie, maar ek en ’n kolega het beide vandag aan mekaar bely dat ons sien uit na die vakansie.

Ek is steeds besig om semestertoetsvraestelle te merk – dis nou al twee weke later. My motivering daarvoor is nie baie hoog nie, en as ek in die middag in my kantoor sit dan raak ek so vaak dat ek begin visvang – gevolglik probeer ek nou my kantoor vermy laatmiddag. Dit is dalk omdat daar nie behoorlike ventilasie in my kantoor is nie; ook is my energievlakke nie baie hoog in die middag nie.

Gister moes ek hoor dat een van my studente ’n vergroeisel in sy brein het. Dit ontstel my eintlik baie. Hy is so jonk! Dalk 20. Hy is ook ’n baie inteligente knaap en redelik aantreklik. Toe ek hom vandag weer in my een klas sien was ek geskok oor hoe maer hy geword het. Eerlik waar weet ek nie hoe om hom te hanteer nie? Partykeer soek ’n mens simpatie, ander kere wil jy net hê mense moet jou normaal hanteer . . . ek kan nie agterkom watse benadering hy verlang nie. Glo is sy pa oorlede weens dieselfde siekte, ’n breingewas. Ek kan maar net hoop dat hy ’n vol lewe gaan hê.

Op ’n ander noot, ek het hierdie week weer begin met Hapkido. Verlede maand het ek net glad nie kans gehad om Hapkido te gaan oefen nie. Hopenlik gaan hierdie maand beter wees.

So waarom is ek so moeg? Eintlik is dit niks nuut nie. My kop sluit nie af nie – ek slaap te min.

No comments: