Sunday 22 March 2009

'n (Verpligte) Eerstejaarskamp

The photo above is not a Creative Commons-image.

Die afgelope naweek moes ek en die ander dosente in die Engelse departement op ’n kamp saam met ons department se eerstejaars gaan. Met ons vertrek en selfs toe ons uiteindelik laat Saterdagmiddag weer by die kampus aangekom het, het ek steeds nie geweet wat presies die doel was vir ons dosente om saam te gaan nie. Die kamp was grootliks behartig deur die departement se kapelaan (ja, elke departement by die universiteit waar ek werk het hulle eie aangestelde predikant vir studenteberading), en senior studente. Ons dosente moes sporadies insit op kleingroepies, maar dit was duidelik tot die ongemaklik van die studente.

Een van my kolegas dink ons teenwoordigheid is om empatie te toon. Die eerste jaars is verplig om op die kamp te gaan. Die dosente is ook verplig om saam te gaan. Dus kan ons meëgevoel toon aan mekaar se lot.

Ek weet nie of die kamp ’n sukses was nie. Party studente, soos die foto kan getuig, het nie omgegee wat om hulle aangaan nie. Waarskynlik omdat hulle die Vrydagaand tot wie-weet-watter tyd baljaar het en die geraas die res van ons wat probeer slaap het daarvan weerhou het. Anders as die studente kon ek nie op my arms lê nie – “that’s not what you get paid for”, het een professor aan my gesê toe ek agter in die saal sit tydens die Saterdagoggend preek. Glo moes ek tussen die studente gaan sit as ’n motivering vir hulle om aandag te gee. Ek het my amper vervies. Is dit waarvoor ek betaal word? Om waghond te speel vir jongvolwassenes wat slaap tydens preke?

’n Aangename ding van die naweek was dat ons dosente kon bietjie "bonding" doen. Ek het ’n kamer gedeel met een van die professors in ons departement en ek kon bietjie met hom gesels oor die akademie. Daar word nie van die buitelandse dosente verwag om navorsing te doen nie, maar nadat ek met hom gesels het klink dit of akademiese prestasie tog aangemoedig word en dat ek wel akademiese bydraes, in die vorm van byvoorbeeld artikels, kan maak -- waarvoor die universiteit my sal vergoed. Met ander woorde, my bydrae tot die departement kan volwaardig akademies van aard wees, nie net pedagogies van aard nie. Dit is goeie nuus.

Dit was ook ’n geleentheid om bietjie uit Seoul te kom, en die natuurskoon te beleef. Dit is nog winter so die wêreld is maar bleek; nietemin, dit was lekker om bietjie buite te wees.

No comments: