Thursday 20 November 2008

RSG en ander klanke

Ek wens RSG het beter musiek gespeel.

Ek geniet om na RSG se programme te luister. Dis gewoonlik baie informatief en aktueel. Hulle kry gereeld vakkundiges in om aan programme deel te neem. Verder is dit ook wel bekend dat RSG se nuusprogramme baie objektief is.

Maar, o wee, daai musiek! Sulke soetsappige ligte Afrikaanse resepmatige goed. En hoeveel jare gaan dit nog neem voordat ons genoeg van "Neem my op vlerke" gehoor het?! Dis tragies. Moet my nie verkeerd verstaan nie, RSG het 'n hele paar uitmuntende musiekprogramme, byvoorbeeld: Dis Opera, Dis Klassiek, Laatnag Latino, Vers en Klank, Al Daai Jazz. Hierdie is eerste klas programme, met wonderlike musiek. Maar daardie goeters wat as vullers gebruik word tussen die ordentlike programme maak my lam. Dit irriteer my so dat ek die kanaal eenvoudig afsit.

Ek wens iemand wil 'n alternatiewe nasionale Afrikaanse radiostasie begin -- een wat uit beginsel uit nie dieselfde musiek speel as wat daar op VCR (Vaal Community Radio) gespeel word nie. Dalk kan MK, MNET se musiekkanaal op DSTV, MK-radio stig. Net na hierdie gedagte by my op kom dink ek: Wag 'n bietjie, miskien het MK 'n radiostasie. Tot my groot opgewondenheid vind ek MK-radio sowaar op die Internet. Dis nie heeltemal 'n alternatief op RSG nie, want dit bied nie dieselfde aktuele programme nie, maar ten minste kan ek langer na die musiek luister.

No comments: