Wednesday 17 September 2008

Werk en sulke aardighede

Sjoe, wat 'n dag! Dis nou half agt in die aand en hier sit ek steeds op kantoor.

Ek het nou net klaar gekry om vir een van my klasse vir more voor te berei. Dis 'n dubbelperiode en handel oor "Presentation". Die spesifieke onderwerp vir more is lyftaal en paralinguistiek. Ek het nog 'n klas waarvoor ek moet voorberei, maar het besluit genoeg is genoeg en sal more daarvoor tyd maak tussen verskillende ander aktiwiteite.

Vanoggend by die vergadering kry ek 'n koevertjie vanaf die direkteur met $250 daarin. Glo is dit om die studente mee te trakteer vir die semester. Aan die einde van die semester handig ek kwitansies in en die oorblywende geld - as daar is. Nog nooit in al my jare van rond hang in die akademie het ek gehoor dat dosente geld kry om hulle studente mee te bederf nie! Of miskien het daai slinkse dosente dit gepocket!

Vanoggend was ek weer na die Taekkyeon klas. Ek het intussen my uniform gekry. Dit is basies 'n spierwit hanbok. 'n Hanbok is die tradisionele drag van Korea. Die ou tannies in my klas moes my help om die ding aan te trek want daar is allerande toutjies en voue en dinge wat my dom gemaak het. Ek gaan more my Taekkyeon afrigter sien weens 'n dyspiersening wat ek maande terug al beseer het en wat steeds nie reg is nie. Miskien kan hy met sy Oosterse muti die ding help genees.

Ongelukkig was ek al weer nie na Hapkido toe vanaand nie. Ek het, soos reeds genoem, te laat gewerk en my Amerikaanse vriend/afrigter het my laatweet dat hy nie vanaand gaan nie, so toe is ek ook nie lus om nog moeite te doen nie. Dis natuurlik nie te laat nie - daar is 'n 21:00 klas...

Ek het skielik die lawwe idee gekry om dalk vir my doktorsnavorsing my huidige idee om skryfkuns vir die moderne eeu te modiveer te ruil vir iets meer... uhm... Koreaans. Ek dink daaraan om bekende gedigte vanaf Koreaans na Afrikaans te vertel en dit dan die spilpunt te maak vir navorsing oor kreatiwe vertaalwerk. Ek weet nie of dit 'n beter idee is vir my doktoraal nie. Tog wonder ek of ek nie my tyd hier in Korea meer direk kan benut nie. Ek moet dalk uitgewers in Suid-Afrika nader wat sal belangstel in so 'n bundel van Koreaanse gedigte in Afrikaans. As 'n uitgewer daarin belangstel kan ek dalk verder daarmee gaan, hetsy vir my doktoraal, al dan nie.

2 comments:

Mary-Jane said...

Jou vertaalde gedigte klink na 'n baie goeie idee. Ek is seker daar sal in die geskenk/koffietafelboekmark 'n plekkie daarvoor kan wees - veral as dit met mooi foto's van Korea geïllustreer word ;-)

Skryfblok said...

Mmm... dan beter ek begin fotos neem met dit in gedagte. Dankie vir die idee.