Tuesday 16 September 2008

Koreaanse ginseng-hoender



Ek het gister besluit om bietjie vleis te eet.

Toe ek die eerste keer Korea toe kom was ek ’n vegaan. Ek het glad nie vleis geëet nie, en amper nooit diere produkte gebruik nie. Maar met my terug keer na Suid-Afrika het ek my diëet verander vir verskeie redes. Ek het myself ’n ovo-lakto vegetariër gedoop en begin om meer gereeld eiers te gebruik en soms suiwel. (Die rede is bietjie gekompliseerd, maar het te make met swaarmetaal detoksering.)

Ek eet steeds selde vleis en gebruik selde suiwel. Om die waarheid te sê ek maak nooit vleis gaar nie. Het jare laas so iets gedoen. Ek eet wel gereeld eiers – deel van die swaarmetaal detoksering. En soms, wanneer ek vir mense gaan kuier wat vleis eet, sal ek hulle nie verontrief nie. Verder, indien ek voel my liggaam het dit nodig weens ’n karige voorsiening aan ’n veelsydige diëet sal ek dalk ’n hamburger of iets gaan koop. Gewoonlik hoender.

So groot was my verbasing toe ek Sondag besluit om ’n hoenderdis op die spyskaart te bestel. Ginseng-hoender, om meer presies te wees. Die foto wys die kokende sop waarin die hoender voor my neer gesit is. Koreane eet graag hulle kos kookpunt warm. Die ander foto wys die ginseng-wortel waarin die kuiken gekook is. Dit lyk nogals na die gillende wortels in een van die Harry Potter-films.

Ek kan eerlik sê dat dit nie vir my lekker was nie. Nie walglik nie, net nie lekker nie. Miskien sou ek meer van gebraaide hoender gehou het, as van die vaalkuikensop. Nietemin, ek is bly dat ek eenkeer hierdie gewilde Koreaanse gereg probeer het. Nou weet ek van beter.

1 comment:

Tania said...

Interessant - dis my gunsteling Koreaanse dis! Die vermenging van geure tussen die ginseng, dadels en knoffel maak vir my 'n perfekte kombinasie. Snaaks genoeg, ons is nou al 14 maande weer terug in Korea, en ek het nog nie weer die geleentheid gehad om dit te eet nie. *nota aan self; gaan eet more-middag sam-gye-tang*