Thursday 11 September 2008

Brille en pille en tienrandnootjies

Toe ek klein was het Ouma Hannie (my ouma aan moederskant) altyd gepraat van brille, pille en tienrandnootjies. Dit was haar uitdrukking om na die oumenstoestand te verwys. Totaal afhanklik van brille, medikasie en 'n skamele pensioentjie.

Gister, terwyl ek liggies parkour-toertjies oefen, het my bril gebreek. Die neusbrugkussingtjie aan die eenkant van die brul was heeltemal skeefgebuig en toe ek daaraan raak toe breek dit mors af. Die bril sit toe skoon lomp op my gesig en in 'n desperate poging om weer balans te kry, toe breek ek maar sommer self die ander neusbrugkussingtjie af. En nou is dit die lense wat op my neus druk. Ek het lang oogwimpers. Ongelukkig is oogwimpers glad nie brilvriendelik nie. My wimpers raak aan die lense en sorg vir ergelike irritasie. Met die bril wat nou juis so vlak teen my gesig is irriteer die wimpers nog meer en omdat ek 'n olierige vel het vee my wimpers nou sulke kwashale olierigheid oor die lense. Boonop is die balans van die bril steeds uit.

Ek kan nie wag vir my eerste betaling nie. Daar is soveel wat gedoen moet word en 'n oogtoets en nuwe bril is hoog aan die lys. So dis my huidige kondisie. Nes oorle' ouma is ek ook afhanklik van 'n bril. En dan is daar die velmedikasie en vitamienes en minerale wat ek daagliks afsluk. Ouma Hannie, nie lank nie dan praat ek ook van die brille, pille en tienrandnootjies.

1 comment:

Skryfblok said...

Ek het Vrydagmiddag 'n nuwe bril gaan koop. My sig het met een graad verswak. Dis nie juis veel nie, maar daar is 'n duidelike patroon - een graad verswakking elke twee jaar. Presies soos die oogarts voorspel het.Glo sal dit plato in my veertigs en dan kan ek vir laserbehandeilng gaan.